Ek moet erken: Terwyl baie mense opgewonde die nuwe jaar vier en goed sê soos: “Ek is só gereed vir 2019” voel ek nie heeltemal dieselfde nie. Ek is bang. Ek weet nie wat 2019 gaan inhou nie. Die gevoel van ‘n skoon bladsy is opwindend, maar ek vind dit ook oorweldigend.
Een of ander primitiewe deel van my brein is ook geneig om dadelik tot die gevolgtrekking: “Jy’s dood” te kom. Of erger nog: “Jy’t nie ‘n lewe nie.”
Dit klink iets soos:
“Wow. Almal het nuwejaarsvoornemens. Jy het nie – jy’t nie ‘n lewe nie.”
“Almal weet presies wat vir hulle wag in 2019. Weet jy? Nee, want jy’t nie ‘n lewe nie.”
Dit klink belaglik as ek dit só skryf, maar dis regtig so en vir een of ander rede is ek geneig om dit te glo ook nog. Dit help om te onthou dat ek eintlik geweldig baie het om voor dankbaar te wees. Byvoorbeeld – ek het ‘n loopbaan as liedjieskrywer en sanger! Maar sodra my brein nog ‘n rede kry om te sê: “Jy’t nie ‘n lewe nie,” vergeet ek dit maklik.
Maar die bladsy is darem nie silwerskoon nie. Party skrywers se raad vir iemand wat vries voor ‘n skoon bladsy is om enigiets te skryf. Dalk selfs aspris die slegste skryfwerk in jou, want dan is daar nie druk op jou om dadelik briljant te wees nie. Sorg net dat daai bladsy nie meer skoon is nie, dan vorder jy darem. Dit help my om te onthou dat alles van 2018 (en die jare voor dit) nie sommer net verdwyn het en nou moet ek van voor af begin nie. Daar is darem liedjies geskryf en opgeneem, lesse geleer – baie foute gemaak ook, maar dinge is darem gedoen. Ek kan aanhou skep en doen.
Dalk is 2019 se bladsy nog redelik skoon, maar dit gaan gou genoeg vol raak. Genadiglik hoef ek nie van héél voor af te begin nie. Maar dis ook genade dat ek tóg kan uitsien na nuwe dinge, danksy die nuwe jaar, maar ook die jare wat al verby is.

Comments

comments