Is dit jou spoedgrens?
Dis nie regtig wat op die bordjies langs die hoofweg staan nie.

Het jy al ooit so min of meer 10km/h oor die spoedgrens gery?
Het jy al ooit jou spoed drasties verminder as jy ’n kamera sien?
Ek het al.  Meer as eenkeer.
Ek het ook al gewens dat daai kameras my kon afneem wanneer ek die wettige spoed ry.
Ek wil so graag rekords hê van wanneer ek iets reg doen ook.

Ons is mense en mense maak foute

Daar is heelwat teenkanting teen ‘n laer spoedgrens.  Mense is oortuig dat die fout nie by hulle lê nie.  Die blaam lê by ander padgebruikers.  Totdat Google se eksperimente1 voltooi is, is alle bestuurders egter mense.  In Swede is ’n veldtog: The Vision Zero2.  Een van die beginsels daarvan is dat mense per definisie foute maak.  Ons wil dit nie erken nie, maar dis waar.  Hulle voorbeeld: Mense is meestal bang genoeg vir hoogtes dat hulle selfs versigtig is om op ’n stoel te klim om iets by te kom.  Tog sal mense maklik vinnig oor ’n treinspoor hardloop met ’n aankomende trein – ’n baie gevaarliker situasie.  Dit wil sê:  Ons het ’n verwronge persepsie van groot spoed.  Ons vergeet gou hoe kwesbaar ons is wanneer dit ons pas.  Ek het al oomblikke nadat ek uit my kar geklim het verander in dieselfde onoplettende voetganger wat my minute terug kwaadgemaak het.

129,9km/h

Die spoedgrens word in Suid Afrika en verskeie lande so toegepas dat daar speling is:  Gewoonlik mag jy dit met so 10km/h oorskry3.  Peter Rollins stel voor4 dat sulke ingeboude grasie juis verhoed dat ons die stelsel tot by die wortels bevraagteken.  Ons weet daar is baie probleme in ons verkeerstelsel:  Onderbetaalde amptenare, omkoopgeld, slaggate en veral:  Talle padsterftes.  Die meeste van ons sal egter daardie gebroke stelsel verdra solank ons kan wegkom met ons eie tekortkominge.

The Vision Zero beantwoord menslike feilbaarheid deur bloot minder ruimte te laat vir foute:  Sperstrepe word vervang met fisiese versperrings.  Stoptekens word vervang met verkeersirkels wat mense dwing om spoed te verminder.  Dit is omdat beter wette nie beter bestuurders waarborg nie.

Ons raak kwaad as iemand anders die reëls oortree, maar vergewe onsself maklik as ons dieselfde doen.  Dit is hoekom ek wonder of mense nie maar nogsteeds ompaaie gaan soek om te ry soos hulle wil nie?  Is dit nie maar wat ons doen nie?

  1. Met “selfbesturende” karre
  2. Lees hulle basiese konsep hier
  3. Die AA bevestig dit hier
  4. In sy boek “The Orthodox Heretic”

Comments

comments