Die ou wat hierdie foto geneem het, het waarskynlik die geld gegryp terwyl die ander twee nog armgedruk het.
‘n Gulde geleentheid vir die fotograaf om die geld vinnig te gryp nadat hy die foto geneem het..

Ek wil hê mense moet van my hou.  Vyande is mense wat nie van jou hou nie – jou selfs haat.  Dit maak “Julle moet julle vyande liefhê.”1 moeilik.  Nie: “Moenie vyande hê nie.”  Eersgenoemde veronderstel dat mens tog vyande het.

Kan dit liefdevol wees om vyandig te wees?  Is dit nie juis onliefdevol om iemand ‘n vyand te noem nie?  Wonderwerke kan hiermee help2:

Die wonder van pizza

Sestien mense bestel pizza.  Toe die pizza opdaag ontdek hulle egter daar is net agt stukkies. Een van die mense sny toe elke stukkie in die helfte.  So kry almal ‘n stukkie.  Dis nie ‘n wonderwerk nie.  Dis basiese wiskunde en sestien mense wat hoop iemand bestel nog pizza.

As hulle egter begin eet het aan die pizza en agterkom die stukkies raak nie minder nie – dit sou ‘n wonderwerk wees.  Hoekom?

Die vereistes vir ‘n wonderwerk

Eerstens is dit onmoontlik – die pizza moes opraak volgens die bekende werklikheid (en die ongeskrewe reëls van pizza deel tussen vriende).  Tweedens is dit duidelik merkwaardig – mens twyfel nie dat dit uitsonderlik is nie.

Wonders word gekenmerk deur kontras:  Te min pizza teenoor oorgenoeg pizza.  Dit gaan ook dikwels gepaard met ‘n vorm van oorvloed:  Twee vissies en vyf brode word te veel kos vir duisende mense.  Dooies begin lewe.  Blindes sien skielik alles.  Water verander in wyn.  Jy kry die idee.

In liefde vir vyande sien ons die vereistes vir ‘n wonderwerk:  Dit is eintlik onmoontlik om jou vyand lief te hê (anders is die persoon tog nie ‘n vyand nie).  Tweedens is dit ‘n merkwaardige kontras (vyandigheid teenoor liefde)3.

Behoefte aan ‘n vyand

‘n Moontlikheid van wonderbare liefde ontstaan in liefde vir vyande.  Anders as ‘gewone’ liefde teenoor geliefdes.4

So ek is op soek na ‘n vyand om lief te hê, want dalk staan ek dan ‘n kans om ‘n slagoffer van buitengewone liefde te word.

  1. Matteus 5:44
  2. Prof.Nelus Niemandt het ook onlangs geskryf oor wonderwerke.  Lees dit hier
  3. Jacques Derrida se idees rondom moontlikhede teenoor onmoontlikhede is baie insiggewend.
  4. Steeds Matteus 5.  Ek dink hierdie liefde het baie in gemeen met wonderwerke.

Comments

comments