Met ’n goeie liedjie kan jy gewone woorde gebruik om buitengewone goed te sê.

Verlede week was ek betrokke by die ATKV Crescendo oudisies in Potchefstroom.  Ek het self in 2005 deelgeneem aan Crescendo, maar die projek het al baie verander van toe af.  Die een ding wat vir my uitstaan is dat dit nie meer regtig ’n kompetisie is nie.  Dis ’n projek wat tyd en hulpbronne belê in Afrikaanse liedjieskrywers.  ‘Afrikaanse Liedjieskrywers’ beteken nie net hoofstroom Afrikaans nie.  Dis uiteenlopende Afrikaans wat verskillend gepraat en geleef word in verskillende dele van die wêreld.  HemelBesem herinner deelnemers daaraan dat Afrikaans ’n musikaliteit het wat dikwels wyer en dieper kan raakvat as akademiese taal.

HemelBesem.
HemelBesem deel bietjie waarheid oor Afrikaans en liedjieskryf by Mohadin, Potchefstroom.

Dis ook een van die redes hoekom ek liedjies skryf in Afrikaans.  Met ’n goeie liedjie kan jy gewone woorde gebruik om buitengewone goed te sê.

Maar hoe doen mens dit?  Waar begin mens?  Hier is ’n paar goed wat my al gehelp het:

1. Waag dit om te skryf

Dit klink voor die hand liggend, maar mens moet eers skryf sodat daar iets is om mee te werk.  Sodra jy iets neergepen het kan jy daaraan vat, dit verbeter, dit verbreed, dit verkort, dit verander en gaan dit keer dat jy dit vergeet.  Maak iets.  Skryf iets.  Dis dalk veilig om te skuil agter iemand anders se bestaande werk, maar dis dapper en kreatief om jou eie liedjie te skep.  Dan het jy iets om mee te werk.

2.  Krap woorde dood.

Austin Kleon
‘n Blackout Poem deur Austin Kleon.

Dis belangrik om te oefen om net die nodige woorde te gebruik in jou werk.  Ek het by Austin Kleon gesien hoe mens wonderlike goed kan skep deur woorde dood te krap.  Hy (en ander mense) krap woorde dood in koerantberigte en dan bly daar digkuns agter.  So krap bietjie van jou eie woorde ook dood en kyk wat gebeur.

3.  Vra: “Wat kan ek anders doen?”

’n Ander vergelyking?  ’n Ander akkoord?  ’n Ander onderwerp?  ’n Ander struktuur? ‘n Ander woord? ‘n Ander toonsoort?  Daar is net soveel note en soveel woorde in die wêreld.  Tog kan jy met jou unieke uitkyk en voorkeure die bestaande dinge op ’n nuwe manier vertolk.  Gee vir jouself toestemming om iets anders te doen.  Om iets te doen op jou unieke manier.

4.  Luister na jouself en na jou werk.

Ek weet dis ongemaklik, maar dit help.  Die meeste selfone kan deesdae basiese opnames maak.  Neem jouself op en speel dit terug.  Dis soos om in die spieël te kyk voor jy uitgaan.

5.  Skryf in vir iets soos ATKV Crescendo

Dit gee vir jou ’n sperdatum en die geleentheid om terugvoer te kry van ervare liedjieskrywers.  Een van die beste plekke om te groei is op die verhoog of daar waar jy jou werk vir ander kan wys.  Dis gewoonlik moeilik ook, want jy stel jouself bloot.  Maar dit is hoe mens leer en groei.  Jy wil tog seker nie net liedjies skryf om hulle in jou slaapkamer te hou nie?

Los kommentaar as jy wonder oor iets wat ek gesê het of as jy ‘n wenk van jou eie wil deel.  Of kontak my persoonlik.

Comments

comments